INLEIDING
Die Wet op Rampbestuur, 2002 (hierna genoem die Wet) is een van die meganismes wat die regering kan gebruik om ramp-verwante verliese van landsburgers te verlig deur gebruik te maak van verskeie remedieë soos bepaal deur hierdie Wet. Hierdie artikel skets die institusionele verantwoordelikhede en prosedures ten opsigte van rampbestuur. Al drie regeringsvlakke het duidelike en spesifieke funksies in hierdie verband. Sodanige funksies word uitgevoer deur die Nasionale Rampbestuursentrum (NDMC), die Provinsiale Rampbestuursentrum (PDMC) en die Munisipale Rampbestuursentrum (MDMC) wat ‘n beplannings- en koördineringsrol speel, insluitend formalisering van verhoudings en ‘n uiteensetting van rolle en verantwoordelikhede tussen die onderskeie regeringsvlakke en die privaatsektor, onder andere. Die onderliggende fokus van die wetgewing is voorkoming en verligting, maar dit beklemtoon ook spoedige en doeltreffende reaksie.
Artikels 25, 38, 52 en 53 van die Wet bepaal dat hierdie staatsorgane elkeen ‘n rampbestuurplan moet voorberei wat onder andere die rolle en verantwoordelikhede in verband met nood-reaksie en post-ramp herstel en rehabilitasie moet uiteensit, asook hul kapasiteit om hierdie rolle en verantwoordelikhede te vervul en hul gebeurlikheidstrategieë en noodprosedures in die geval van ‘n ramp, met in begrip van maatreëls om sodanige strategieë te finansier.
VERKLARING VAN RAMPGEBIEDE
Verklaring van ‘n ramp is die aanvanklike stap om verdere aksies te loods. Dit beteken dat indien ‘n provinsie of munisipaliteit nie in staat is om ‘n voorval – progressief of skielik, wydverspreid, gelokaliseer, natuurlik of mensgemaak, wat moontlik sterftes, beserings of siekte, skade aan eiendom, infrastruktuur of die omgewing, of ontwrigting van die gemeenskapslewe kan veroorsaak – te hanteer nie, mag hulle hul bevoegdhede en pligte ingevolge artikel 41(2) en 55(2), onderskeidelik, uitoefen en mag dus die voorval as ‘n ramp verklaar.
‘n Ramp moet verklaar word ten einde die regering in staat te stel om bykomende hulp te oorweeg.
Die volgende elemente word oorweeg met die verklaring van rampe:
• Eerstens, indien die munisipaliteit of provinsie se gebeurlikheidsreëlings nie genoegsaam is om doeltreffend met die voorval te handel nie: gebeurlikheidsreëlings verwys na meganismes om die voorval te hanteer met behulp van die hulpbronne van die munisipaliteit of provinsie asook donasies en ander buitengewone maatreëls.
• Tweedens, indien die voorval of dreigende voorval van só ‘n aard is dat diegene wat geraak word nie in staat is om die gevolge daarvan te hanteer deur gebruik te maak van hul eie hulpbronne nie.
• Derdens, ander faktore soos die omvang en erns van die voorval. Hierdie kriteria is ook belangrik in die NDMC se rampklassifikasieproses.
• Laastens, daar moet voldoen word aan ander wetgewing wat reeds toegepas word binne die jurisdiksie van die munisipaliteit of die provinsie anders as artikel 2(1)(b) van die Wet (d.w.s. die Wet op Dieregesondheid).
WIE VERKLAAR ‘N RAMP?
Die vraag in alle gevalle is: wie is uiteindelik verantwoordelik?
• Die raad van ‘n munisipaliteit moet ‘n besluit neem om ‘n plaaslike ramptoestand te verklaar en sodanige besluit moet in die provinsiale staatskoerant gepubliseer word.
• Die metro- of distriksmunisipaliteitsraad het die mag om ‘n plaaslike rampgebied te verklaar, te koördineer en te bestuur.
• ’n Plaaslike munisipaliteit het die mag om ’n plaaslike ramptoestand te verklaar, te koördineer en te bestuur indien ‘n ooreenkoms in plek is met die betrokke distriksmunisipaliteit (besluite deur altwee rade).
• Die Premier van ‘n provinsie, in konsultasie met lede van die Uitvoerende Raad, verklaar ‘n provinsiale ramptoestand. Die besluit moet in die provinsiale staatskoerant gepubliseer word.
KLASSIFISERING VAN RAMPE
Artikel 23 van die Wet magtig die NDMC om ‘n ramptoestand te klassifiseer en ook enige ramptoestand te herklassifiseer ten einde:
• Primêre verantwoordelike vir die koördinering en bestuur van ‘n ramp aan ‘n spesifieke regeringsvlak toe te wys;
• Aanspreeklikheid vir die bestuur van ‘n ramp te verseker;
• Toepaslike ingryping en ondersteuning aan die betrokke regeringsvlak te verseker;
• Die onderskeie regeringsvlakke het die verantwoordelikheid om die NDMC te adviseer ten opsigte van die klassifisering van rampe; en
• Klassifisering deur die NDMC verhoed nie ‘n regeringsvlak om te handel met die gevolge van ‘n ramp.
Soos in die geval ‘n verklaring van ‘n ramp, sal die klassifisering van ‘n ramp nie outomaties regeringshulp (befondsing) om die gevolge daarvan aan te spreek tot gevolg hê nie. Befondsing van rampe is ‘n afsonderlike proses met sy eie voorwaardes.
BEFONDSING VIR REAKSIE OP ‘N RAMP
(Nota: Die volgende paragrawe is hoofsaaklik ter inligting van die rampbestuurspraktisyne wat by staatsorgane in diens is.)
RAMPVERLIGTING-TOEKENNINGS
Die Nasionale Tesourie, via die NDMC, het befondsingsmeganismes in plek, nl. Provinsiale Ramptoekennings (PDG) en Munisipale Ramptoekennings (MDG). Die toekennings word gemaak slegs vir die doel om te reageer op die onmiddellike behoeftes wat volg op ‘n ramp en ten einde die onmiddellike gevolge daarvan te verlig. Hierdie voorwaardelike toekennings word gemaak word vir die befondsing van onmiddellike en kritieke behoeftes in lyn met die raamwerk, terwyl fondse vir herkonstruksie en rehabilitasie via die aanvullende of jaarlikse begroting hanteer word.
Sodanige toekennings mag, soos per skriftelike versoek, slegs aangewend word om kritieke infrastruktuur wat beskadig is as gevolg van ‘n ramp te befonds, bv. tydelike strukture en/of skuilings wat volledig opgerig kan word binne drie maande nadat die ramp verklaar is en wat benodig word om voortgesette dienste deur die provinsies wat verantwoordelik is vir die verskaffing en handhawing van die betrokke dienste te verseker.
Die toekennings mag gebruik word vir grootskaalse humanitêre en ander verligtingsmaatreëls, asook vir die tydelike herstel van paaie om te verseker dat gemeenskappe nie afgesny word van dienste nie of soos benodig deur die Departemente van Maatskaplike Ontwikkeling, Gesondheid en Landbou, Bosbou en Visserye wat normaalweg verantwoordelik is vir die diens of wat nie in staat is om die diens te lewer nie. Goedkeuring moet verkry word van die betrokke departement wat die primêre funksie verrig.
Die PDG word geadministreer deur die NDMC in konsultasie met die Nasionale Tesourie.
Aansoeke vir PDG- en MDG-befondsing met ingedien word in lyn met die raamwerke ingevolge die Wet op die Verdeling van Inkomste (DoRA) en riglyne soos uitgevaardig deur die NDMC. Dit is egter belangrik om daarvan kennis te neem dat MDG- en PDG-befondsing slegs beskikbaar is wanneer ‘n ramptoestand verklaar is, soos uiteengesit hierbo. Die verwerking van aansoeke om MDG- en PDG-befondsing kan tot 90 dae neem ná verklaring van ‘n ramp.
Provinsies kan toegang tot sodanige toekennings verkry by indiening van die volgende dokumente:
• ‘n Besigheidsplan (onderteken deur die departementshoof);
• ‘n Afskrif van die klassifikasiebrief en verklaring ingevolge die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002);
• ‘n Afskrif van die oorspronklike evaluering van die insident, met inbegrip van die getal mense wat geraak is (in die geval van die landbousektor: kommersiële boere, kleinskaalse boere en kommunale boere) asook besonderhede van die infrastruktuur wat beskadig is;
• Die PDMC en/of provinsiale sektor-departemente moet ‘n aanduiding gee van fondse wat bestee is of bygedra is om die ramp te hanteer;
• ‘n Lys van items wat aangekoop moet word en fondse wat benodig word ten einde te reageer op die ramp;
• ‘n Lys van items ontvang van nie-regeringsorganisasies (NGO’s) en besighede as donasies;
• ‘n Afskrif van die PDG-allokering ingevolge die medium-termyn bestedingsraamwerk (MTEF);
• ‘n Lys van MTEF-allokerings vir provinsiale toekennings (befondsing mag slegs aangevra word by die NDMC).
Herkonstruksie- en rehabilitasie (R en R) -allokerings:
• Hierdie allokering is spesifiek vir rekonstruksie- en rehabilitasiedoeleindes;
• Die betrokke munisipaliteit/provinsie moes ‘n ramptoestand verklaar het en dit in die provinsiale staatskoerante gepubliseer het;
• Die NDMC moet die insident klassifiseer;
• Die betrokke munisipaliteit en/of provinsie moet formeel aansoek doen vir ‘n nasionale bydrae.
Aansoeke moet die volgende insluit:
• ‘n Gedetailleerde insidentverslag (insluitend die aard van die insident, ‘n lys van die infrastruktuur wat beskadig is en die bedrae). Die Professionele Diensverskaffers (PSP’s) moet hierdie inligting verifieer;
• ‘n Afskrif van die verklaring;
• ‘n Afskrif van die klassifikasie;
• Bydrae van provinsies/munisipaliteite (reaksie) – in die toekoms sal dit afskrifte van rampbestuursplanne moet insluit);
• Formele aansoeke moet onderteken word deur die munisipale bestuurder en departementshoof van die munisipaliteit en provinsie, onderskeidelik.
‘n Onafhanklike verifikasie moet gedoen word deur die NDMC ten einde alle befondsing-aansoeke deur die geaffekteerde provinsie/munisipaliteit te bevestig en ook om te voldoen aan die Nasionale Tesourie se vereistes vir die uitbetaling van R en R fondse:
• Die NDMC dien ‘n aansoek in by die Nasionale Tesourie namens die geaffekteerde provinsies en munisipaliteite (gebaseer op die uitkoms van die onafhanklike evaluering);
• Aansoeke moet deur die Kabinet goedgekeur word;
• Allokerings vloei deur die Nasionale Tesourie se normale begrotingsprosesse;
• Beskikbaarheid van fondse asook die bestedingstendense van die sektore mag ‘n impak op die allokerings hê;
• Fondse moet toegeken word ingevolge die MTEF;
• Post-rampsbefondsing met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se herkonstruksie-toekennings;
• Besigheidsplanne vir die toekenning van rampfondse moet in lyn met die post-rampverifikasie evalueringsverslae wees en moet ingedien word by die NDMC;
• Ramp-herkonstruksie- en -rehabilitasiefondse mag slegs aangewend word vir goedgekeurde projekte soos gelys in die post-rampverifikasie evalueringsverslae en goedgekeurde besigheidsplanne.
• Kwartaallikse prestasieverslae oor ramptoekennings moet by die NDMC via die betrokke PDMC ingedien word.
Ander bepalings waaraan voldoen moet word:
• Prioritiseer ramp-risikovermindering;
• Beraadslaag met nasionale departement oor ramp-reaksie uitdagings;
• Neem deel aan PDMC-vergaderings, Joint Operation-sentra en evaluerings-verifikasie prosesse;
• Ontwikkeling en indiening van planne op provinsiale vlak;
• Tydsraamwerk en voorwaardes vir indiening ten einde vertragings met rampverligting-aansoeke te vermy;
• Maandelikse rapportering vir PDG-allokerings;
• Kwartaallikse prestasie- en finansiële verslae oor fondse wat toegeken is (post-ramp herkonstruksie en rehabilitasie).
SLOT
“Ramp-risikobestuur is almal se besigheid.”
Dokument saamgestel met dank en erkenning aan:
Lindokuhle Ngubane
Nasionale Rampbestuursentrum
Pretoria