Landbou in Suid-Afrika is steeds ‘n belangrike sektor ten spyte van sy relatief klein bydrae tot die bruto binnelandse produk. Die sektor is ‘n belangrike verskaffer van werksgeleenthede veral in plattelandse gebiede, asook ‘n belangrike verdiener van buitelandse valuta.
Die landbou se prominente indirekte rol in die ekonomie is ‘n funksie van terugwaartse en voorwaartse skakeling met ander sektore. Aankope van intermediêre goedere en dienste vorm terugwaartse skakeling met die vervaardigingsektor, terwyl voorwaartse skakeling hoofsaaklik gevestig word deur middel van die verskaffing van grondstowwe aan die nywerheid. Ongeveer 70% van landbou-uitsette word gebruik as intermediêre produkte. Die landbou is in eie reg ‘n belangrike sektor asook ‘n belangrike drywer vir groei in die res van die ekonomie – ‘n feit wat ook erken word in beleidsverwante dokumente soos die Nasionale Ontwikkelingsplan 2030.
In wese bevestig die Nasionale Ontwikkelingsplan die noodsaak vir die landbousektor – hetsy opkomend of kommersieel – om steeds die ruimte gegun te word om ekonomiese groei, werkverskaffing, die verdiening van buitelandse valuta en die ontwikkeling van die nywerheidsektor binne ‘n veilige en nie-diskriminerende omgewing maksimaal te kan ondersteun.
Weens ‘n onaanvaarbare vlak van misdaad en geweld in landelike gebiede, poog die organisasie voortgeset om ‘n veilige omgewing vir mense wat betrokke is in die landbou te verseker. ‘n Goeie werksverhouding word gehandhaaf met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op beleids- sowel as operasionele vlak met die oog daarop om verwante probleme aan te spreek.