Hierdie tema is tydens die tweede sessie van dag drie van Nasie in Gesprek op die Nampo-Oesdag bespreek, wat deur Theo Vorster, Uitvoerende Hoof van Galileo Capital, aangebied is.
Die paneel het uit top-sakelui in die landbou bestaan met mnr. Tommie van Zyl, uitvoerende hoof van ZZ2; Pieter Karsten jnr, adjunk besturende direkteur van die Karsten Groep; prof. Elmarie Venter, direkteur van Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit se Eenheid vir Familie-ondernemings en mnr. Danie Minnaar, voorsitter van Senwes Beperk.
Vorster kon dit nie beter uitgespel het nie: “Dit gaan oor die familie as ‘n eenheid.” Hier is daar baie uitdagings en suksesse ter sprake. Familiebesighede bestaan volgens Van Zyl al sedert 399 vC. “Daardie raamwerk is vandag nog relevant waar standhoudendheid en vertroue kardinaal is. Dit gaan oor die sisteem se doel.”
John Deere was familiebesigheid
Venter het hierby aangesluit deur te noem dat “familiebesighede 98% van alle besighede uitmaak (wêreldwyd).” Minnaar het die familie-aspek beklemtoon: “Die John Deere’s en Monsanto’s van vandag was eens op ‘n tyd familiebesighede.” Dit opsigself wys die waarde van familiebesighede.
In kruks, om die voortbestaan van ‘n familiebesigheid te verseker, is “die belangrikste element om seker te maak dat die organisasie-geheue behoue bly; om ‘n resep te kan ontwikkel om ‘n super-organisme te bou,” so vertel Van Zyl.
Karsten verstaan sy rol binne hierdie superstruktuur: “As jonger boer moet jy vrede daarmee maak dat jy ondergeskik is, jy moet nog baie verder groei en vorder. Hier is ek net bevoorreg om deel te wees van die besigheid se groei.”
Opvolgbeplanning
Minnaar het die aspek van opvolgbeplanning aangeraak “Ons bestee nie genoeg tyd aan opvolgbeplanning nie.”
In ‘n familiebesigheid moet die “aandag op dieselfde onderwerp toegespits wees,” dit is Van Zyl se siening waar “Waardes en normes geraffineer word tot die volgende vlak.” Venterhet vertel dat daar vier belangrike elemente hier is om na te kyk soos “die funksionele gebiede waar mense aangestel word, bestuursmeganismes wat aangepas kan word asook kommunikasie en kulturele waardes.” Sy het dit aangevul met die feit dat familiebesighede ook “sosiale en entrepreneuriese kapitaal” het.
Vir Van Zyl van ZZ2, wat die helfte van die tamaties in Suid-Afrika produseer, gaan “dit oor die regeerproses. Die eienaarskap beïnvloed hoe die samestelling van die regeerders lyk.” Met Venter wat klem lê: “Dit is ‘n onomwonde feit dat familieboerdery aanhou groei en ‘n baie belangrike rol speel.”