In ’n verrassende wending het die Nasionale Vergadering ingestem dat die Regering die droogte tot ’n nasionale ramp moet verklaar.
In ’n mosie sonder kennisgewing wat by die Parlement ingedien is, het me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, gevra dat die droogte tot ’n nasionale ramp verklaar en dat alles moontlik gedoen word om die impak van die droogte op landsburgers te versag.
Dit was Donderdag, 26 Mei, die laaste sitting van die NV voordat parlementslede met verkiesingswerk in hulle kiesafdelings begin. Die plaaslike munisipale verkiesing is op 3 Augustus.
Die Regering het verskeie kere reeds aangedui dat hy nie die droogte as ’n nasionale ramp gaan verklaar nie, omdat dit in hierdie stadium volgens hom nie nodig is nie. Siende dat die mosie aanvaar is, beteken dit dat die Parlement ’n amptelike skrywe aan die Regering moet rig waarin sy beroep vervat is dat die droogte tot ’n nasionale ramp verklaar moet word. Die Regering sal terugvoer aan die Parlement moet gee.
Steyn het in haar mosie aangevoer dat die NV kennis moet neem dat die land tans die ergste droogte nóg ervaar en dat dit ’n negatiewe impak op voedselpryse het. Stygende voedselpryse is aan die orde van die dag.
Droogtenood is in sewe van Suid-Afrika se nege provinsies verklaar. Lesotho, Swaziland en Zimbabwe het ook noodsituasies verklaar. Die droogte is egter nie tot nasionale ramp in Suid-Afrika verklaar nie.