Geen wit mielies meer uit die VSA Landbou.com - Deur Nico van Burick

Geen wit mielies meer uit die VSA Landbou.com - Deur Nico van Burick

Agri Noord Kaap - Geen wit mielies meer uit die VSA

Wit mielies.
Foto: www.agri-remaxinnovation.info

Amerika het nie meer wit nie-GM-mielies te koop nie en verdere uitvoere daarvan sal eers met die volgende oes hervat.

Amerika het al sy beskikbare wit nie-GM-mielies alreeds verkoop en die Amerikaanse Graanraad (USGC) verwag nie enige verdere uitvoere vandaar voor die volgende oes nie.

“Ons glo egter die sterk vraag hierdie jaar het boere aangemoedig om meer aan te plant en as die weer saamspeel, sal ons verseker later die jaar meer voorraad beskikbaar hê as die afgelope seisoen,” sê me. Melissa Kessler, woordvoerder van die USGC. Oestyd begin op meeste plekke daar in September/Oktober.

Agbiz-ekonome, mnre. Tinashe Kapuya en Wandile Sihlobo, het onlangs gewaarsku dat die gemiddelde wit mielie-invoere nou op onder 3 000 ton per week staan, terwyl dit eintlik 21 154 ton per week moet wees. “Daar is bekommernisse oor die wêreld se witmielie-voorraad. Die moontlikheid om die vereiste 1,1 miljoen ton wit mielies in te voer lyk onwaarskynlik gegewe die knap aanbod-situasie op streek- en wêreldmarkte,” sê hulle.

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, meen daar is egter nog nie rede vir paniek nie. “Dit is ’n normale patroon dat handelaars in hierdie tyd eerder plaaslike mielies van die lande af aankoop eerder as om in te voer. Dit maak waarskynlik nou vir die meulenaars meer logistieke en sakesin om nie in te voer nie. As almal klaar gestroop het sal ons weer meer bote sien inkom.”

Hy sê hy is ook nie té bekommerd dat daar ’n bottelnek kan ontstaan nie. “Ons het al 157 000 ton in een week in ons hawens afgelaai. Hoewel dit waarskynlik nie week na week sal kan gebeur nie, wys dit ons kan druk hanteer as dit moet.”

Oor beskikbaarheid sê hy Meksiko het waarskynlik nog nie-GM-witmielies en die syfer wat mens in die gange hoor is sowat 700 000 ton. Mnr. Christo Joubert, senior navorser van die Nasionale Landboubemarkingsraad, sê ook hy glo daar is mielies in Meksiko beskikbaar. “Mens moet in gedagte hou dat verkopers hulle mielies skuif na waar hulle die beste prys kan kry. Hulle sal nie plaaslik in Meksiko verkoop as hulle teen ’n beter prys na ons kan uitvoer nie.”

Hy sê met die huidige prys vir wit mielies sal dit beslis ook Amerikaanse boere aanmoedig om te plant. “ ’n Premie van sowat R360 vir wit teenoor geel kan ’n boer al begin oorreed om wit te plant. Hulle sal egter moet kyk na nie-GM want ek glo nie die regulatoriese struikelblokke gaan betyds uit die weg geruim kan word nie.”

Handelaars het die laaste tyd ook begin dink dat die vraag dalk nie heeltemal so hoog as 1,1 miljoen ton se invoere gaan wees nie “Geen ingevoerde wit mielies is nog in die huidige bemarkingsjaar ingevoer ná die 22 260 ton wat vanuit die VSA in die week van 14 tot 20 Mei afgelaai is nie. In teenstelling is daar sedert die siesoen op 1 Mei begin het reeds meer as 257 000 ton geel mielies vanuit Argentinië ingevoer is (sowat 10% van die 2,7 miljoen ton wat na raming benodig word). – Nico van Burick

Agri Noord Kaap

Grootste mielie-kontrak in Suider-Afrika Landbou.com - Deur Nico van Burick

Grootste mielie-kontrak in Suider-Afrika Landbou.com - Deur Nico van Burick

Agri Noord Kaap - Grootste mielie-kontrak in Suider-Afrika

Mielies
Foto: Charl van Rooyen

Senwes gaan 800 000 ton mielies per jaar, vir twee jaar, aan Astral lewer.

Die pluimveeprodusent, Astral, wat ook die grootste enkele aankoper van mielies in die land is, het pas ’n kontrak met Senwes aangegaan vir die voorsiening van 800 000 ton mielies per jaar.

Dit is die grootste enkele mielie-kontrak in Suider-Afrika. Volgens mnr. Francois Strydom, groep- uitvoerende hoof van Senwes, behels dit die verskaffing van mielies oor ’n twee jaar-tydperk aan Meadow Voere, Astral se voerafdeling.

Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, het gesê hy is verheug om nou vir die eerste keer ’n plaaslike verskaffer te hê en is vol vertroue dat Senwes die mielies sal kan verskaf om 37 miljoen kuikens per dag te voed.

Agri Noord Kaap